Namibians going on leave to SA ~ Read this.....

Started by Michael Alexander, December 13, 2012, 03:12:52 PM

Previous topic - Next topic

0 Members and 1 Guest are viewing this topic.

Michael Alexander

Chaos met Namibiese voertuie op SA-grense
Dring aan op 'n tydelike invoerpermit, sê konsultant
Skynbare swak kommunikasie tussen Suid-Afrikaanse beleidmakers en grensbeamptes lei tot swak beheer van Namibiese motors wat Suid-Afrika binnegaan, wat al probleme vir verskeie Namibiërs veroorsaak het. Namibiërs moet op tydelike invoerpermitte vir hul motors aandring.
Namibiërs wat Suid-Afrika met hul motors binnegaan, moet op 'n tydelike invoerpermit by grensposte aandring om 'n moontlike botsing met die gereg in Suid-Afrika te voorkom, al sê grensbeamptes dit is nie nodig nie.

Mnr. Leon Marais, 'n onafhanklike doeanekonsultant in die Noord-Kaap, sê hy het navrae by drie verskillende grensposte en SARS se hoofkantoor gedoen en op drastiese verskille in die toegangsbeheer van Namibiese voertuie by die onderskeie grensposte afgekom.

"Verskeie Namibiërs wat Namibies geregistreerde voertuie in Suid-Afrika het, het nie die nodige invoerpermitte by die grens ontvang nie omdat dit volgens grensbeamptes nie nodig is nie, ten spyte van die wet wat dit vereis.

"Terselfdertyd het sommige Namibiërs, veral in Kaapstad, onlangs hieroor met die gereg gebots. In enkele gevalle is Namibiese studente se motors by padblokkades of deur verkeers- of polisiebeamptes gekonfiskeer omdat hulle nie 'n tydelike invoerpermit kon toon nie, waarna hulle boetes opgelê is en die motors uit die land moes neem. Sommige studente is selfs in hegtenis geneem."

Marais is toegegooi onder vrae ná Republikein se artikel "Wet sê oor Namibiese motors in SA" van 19 November, waarin hy as 'n kontakpersoon aangewys is. "Ek het talle e-posse en telefoonoproepe ná die plasing van die berig van bekommerde ouers en studente ontvang wat sê hulle het geen tydelike invoerpermitte by die grensposte ontvang nie."

Volgens Marais moet die DA 331-vorm, 'n tydelike invoerpermit, by grensposte ingevul word indien 'n persoon Suid-Afrika met 'n Namibies-geregistreerde motor wil binnegaan. "Die vorm geld vir lande wat onder die ooreenkoms met die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) val, naamlik Botswana, Lesotho, Namibië, Suid-Afrika en Swaziland.

"Die DA 331-vorm word egter met die reisigerskaart (TC-vorm) by grensposte soos Ramathlabama, Nakop en Vioolsdrift vervang, waar die nuwe passasiersverwerkingstelsel (PPS) in werking is. Jou verklaring word elektronies verwerk en 'n TRD1-vorm word uitgedruk. As jy een van dié twee vorms het, kan jy jou motor vir ses maande in Suid-Afrika hou.

"Die Suid-Afrikaanse wet maak voorsiening vir tydelik ingevoerde voertuie om vir ses maande op 'n keer in die land te mag wees, waarna jy by 'n SARS-doeanekantoor aansoek kan doen om dié tydperk met nog ses maande te verleng as jou motor langer in die land moet bly. Uiteindelik kan jou motor vir 'n jaar in die land bly, maar moet daarna die land verlaat. As die voertuig dan weer die land binnekom, word 'n nuwe tydelike invoerpermit uitgereik.

"Verskeie Namibiese studente laat hul voertuie gedurende vakansies in Suid-Afrika agter. Uiteindelik is die voertuie vir vier jaar of langer in die land, wat onwettig is omdat wetgewing net vir ses maande voorsiening maak.

"Die Suid-Afrikaanse en Namibiese owerheid begin ook saamwerk om dié probleem hok te slaan. 'n Namibiese burger het onlangs haar voertuig wat al lank in Suid-Afrika is, se lisensie hernu en die Namibiese registrasie-owerheid het aangedui hulle is bewus die voertuig is in Suid-Afrika en gesê sy moet dit daar registreer.

"Party Namibiërs wat voor 1990 gebore is, kry permanente verblyf of word Suid-Afrikaanse burgers en hou soms hul Namibiese voertuie in Suid-Afrika. Ek raai dié mense aan om hul voertuie eerder op die Suid-Afrikaanse NaTIS-stelsel te registreer.

"Hierdie is nie nuwe regulasies of wetgewing nie. Die Suid-Afrikaanse owerhede pas nou net die wet strenger toe om 'goedkoop' invoere te keer wat die Suid-Afrikaanse motorbedryf skade kan berokken."

Volgens die owerhede word tweedehandse motors van lande soos Asië ingevoer en in Namibië, Swaziland, Lesotho en Botswana geregistreer omdat wetgewing die registrasie en invoere van dié motors in Suid-Afrika verbied. Verskeie mense koop die goedkoop ingevoerde motors, registreer dit in 'n buurland en ry dit in Suid-Afrika, ten koste van hul motorbedryf.

"Die beleid by grensposte om nie tydelike invoerpermitte vir Namibies-geregistreerde voertuie uit te reik nie, veroorsaak egter dat Namibiese voertuie in Suid-Afrika nou die teiken van 'heksejag' word, met onskuldige studente wat dikwels die slagoffers is. Daarom moet op 'n tydelike invoerpermit aangedring word.

"As die bestuurder van 'n motor nie die eienaar is nie, moet hy 'n magtigingsbrief of beëdigde verklaring van die eienaar byderhand hê, waarin vir hom toestemming gegee word om die voertuig in Suid-Afrika te bestuur. Die eienaar moet verkieslik ook dié inligting aan sy versekeringsmaatskappy verstrek."

Mense met nog vrae kan vir Marais by 0027 53 2030 727 of 0027 76 627 1100 in die Noord-Kaap kontak of 'n e-pos aan leon.marais@intekom.co.za stuur.


LINK: http://www.republikein.com.na/politiek-en-nasionale/chaos-met-namibiese-voertuie-op-sa-grense.160658.php
OPS 1976-1982 : CBC 1982-1988

Alfred Boehme

This is no problem
1. Copy of your ID
2. Copy of your car papers
3. Take to SA border post (the portable caravan on your right)
4. They will issue you with a TIP
5. Walla valled for 6 month
6. Keep these papers with you in your car and produce them to any costom official when requested



Adriaan Van Rooyen

Storm oor Namibiese voertuie in SA eensklaps verby
Terwyl bekommerde vakansiegangers gister geskarrel het om meer inligting oor die vereiste tydelike invoerpermitte vir hul motors wat by Suid-Afrikaanse grense verkry moet word te bekom, het die probleem homself intussen opgelos.

Doeanebeamptes gister met inligting vorendag gekom wat die prentjie vir Namibiese motoriste handomkeer verander. Volgens 'n nuwe wysiging aan die Suid-Afrikaanse doeane- en aksynswet sal motors van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (SACU) nou nie meer tydelike invoerpermitte nodig hê nie. Namibië asook Botswana, Lesotho en Swaziland val hieronder.

Mnr. Leon Marais, 'n onafhanklike doeanekonsultant in die Noord-Kaap, sê dit beteken al die vereistes verval en motors uit die SACU-gebied sal nou weer onbepaald in Suid-Afrika kan bly. "Die tydelike invoerpermitte sal voorts net vir nie-SACU-motors geld en motoriste van Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland sal nie meer die DA331-,TC-01- of TRD 1-vorm hoef in te vul nie.

Dié verwikkelinge vind plaas ná sommige Namibiërs – veral in Kaapstad – onlangs oor tydelike invoerpermitte met die gereg gebots het. In enkele gevalle is Namibiese studente se motors by padblokkades deur verkeers- of polisiebeamptes gekonfiskeer omdat hulle nie 'n tydelike invoerpermit kon toon nie.

Hulle is daarna boetes opgelê en moes die voertuie uit die land neem. Sommige studente is selfs in hegtenis geneem.

"Die reëlwysiging los ook die probleme vir studente met Namibiese motors in Suid-Afrika op en hulle behoort nie verdere probleme te ondervind nie."

Marais waarsku Namibiese bestuurders egter dat kommunikasie tussen die betrokke owerhede nie altyd na wense blyk te wees nie en dat polisie- of verkeersbeamptes dalk steeds tydelike invoerpermitte van Namibiese reisigers vir hul motors kan vereis.

"Ek raai bestuurders aan om 'n afskrif van die nuwe beleidsdokument in hul voertuie byderhand te hou, sou 'n verkeerskonstabel hulle dalk voorkeer. Die dokument kan by www.sars.gov.za afgelaai word. Die beleidsdokument moet egter saam met die wysiging van 30 November 2012 gelees word."

Mense met nog vrae kan vir Marais by 0027 53 2030 727 of 0027 76 627 1100 in die Noord-Kaap kontak of 'n e-pos aan leon.marais@intekom.co.za stuur.
There's Only One Western Province!